• 023 3470 923
  • Worcester
  • 028 5143 929
  • Swellendam
  • 023 3161 304
  • Ceres

    Beurse by Worcester Radiologie: Só werk dit

    August 22, 2019

    Worcester Radiologie stel met trots beurse en indiensopleiding beskikbaar vir studente wat radiografie studeer. Hier is inligting oor hoe die proses werk.

    1. Doen jou navorsing oor radiografie en besluit of dit die loopbaan is vir jou

    Die ideale kandidate vir ons beurse is graad 12’s wat reeds besluit het om radiografie te studeer. Want ongelukkig is radiografie nie ’n werk wat by almal pas nie, en ons sal terselfdertyd iemand met passie vir die beroep uitkies. Maak seker jy ken die verskil tussen ’n radiografis en ’n radioloog en weet dat jy nie ’n dokter gaan word nie maar ’n tegniese beampte wat in opdrag van ’n dokter met beeldingstoerusting werk.

    Handige skakels:
    • Lees gerus Careers24 se interessante oorsig oor radiografie.
    • Verken Worcester Radiologie se webwerf om te sien wat ons doen.

    2. Maak seker jy kwalifiseer en doen dan aansoek by CPUT

    Wanneer jy weet dat radiografie jou loopbaankeuse is, is dit belangrik om eerstens aansoek te doen om dit by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (CPUT) te studeer. Sonder keuring by KSUT, sal jy nie vir een van ons beurse in aanmerking kom nie.

    Klik gerus hier om na CPUT se blad vir mediesverwante kursusse te gaan, soek die afdeling “Medical Imaging and Therapeutic Sciences”, en klik op die kursusse “BSc: Diagnostic Radiography” of “BSc: Diagnostic Ultrasound”. Van daar af sal jy al die nodige inligting oor vereiste skoolvakke, sluitingsdatums vir aansoeke en kursus-samestelling kry.

    3. Wag om van CPUT en Worcester Radiologie te hoor

    Om die proses te vergemaklik, het ons ’n ooreenkoms met CPUT om ons in kennis te stel van studente uit ons omgewing wat vir studies daar gekeur is. Ons sal dan daardie studente bel.

    Jy hoef dus geen ekstra aansoek by Worcester Radiologie in te dien nie, totdat jy weet jy is reeds vir die kursus gekeur en daarna ’n oproep van ons gekry het. Indien jy vir ’n onderhoud by Worcester Radiologie genooi word, kan jy ’n kort CV en/of motivering saambring oor waarom jy vir die beurs aansoek doen. Hierdie stap vind gewoonlik in November plaas.

    Intussen is daar ietwat minder as ’n maand oor voor aansoeke by CPUT op 23 September sluit. Sterkte met jou aansoek!

    Indien jy steeds meer inligting verlang, bel Melanie by 023 348 0923 of stuur e-pos na melanie@wrad.co.za.

    Share this article