• 023 3470 923
  • Worcester
  • 028 5143 929
  • Swellendam
  • 023 3161 304
  • Ceres

    As borskanker in jou gene is…

    October 22, 2019

    Toe borskanker by Ilana Brink gediagnoseer is, was sy een van vier vroue in haar onmiddellike kring wat in daardie jaar gekonfronteer is met die siekte. Een van hulle was haar huishulp – as ’t ware die tweede ma vir haar dogtertjie – wat kort tevore die stryd verloor het. Dit het die moeilike taak om die nuus aan haar kinders oor te dra, selfs moeiliker gemaak.

    “My dogtertjie was in daardie stadium drie en my seuns agt en elf. Ons huishulp is twee maande ná haar diagnose oorlede en toe moes ek vir die kinders sê Mamma het dieselfde siekte wat sy gehad het. Dit was regtig die moeilikste om dit vir ons naaste familie en kinders te sê. Ek het baie gehuil en ek en my man het seker vir ’n week alleen met die nuus geloop.”

    Ilana moes boonop ook ander bemoedig terwyl sy haar eie diagnose moes verwerk. Dit was nie aldag maklik nie.

    Familiegeskiedenis

    Sy was bewus van die borskankergeskiedenis in haar famile en daarom het sy gereeld vir ondersoeke gegaan.  Haar oumagrootjie, ouma en ma het borskanker gehad. Op die baie jong ouderdom van 23 het sy dus vir haar eerste mammogram gegaan nadat sy die eerste keer ’n knop in haar bors gevoel het. Dit was gelukkig net ’n sist wat later weer weg is.

    “Ek het vir 16 jaar tussendeur my drie swangerskappe gereeld vir opvolgmammogramme gegaan.” Elke Oktober het sy getrou haar afspraak vir ’n mammogram gehad en ook ’n sonar om verder deur die digte borsweefsel te probeer sien. Elke keer was sy verlig dat alles normaal is, maar steeds was daar die wete dat sy volgende jaar weer sal moet opvolg.

    Die diagnose

    Toe, in 2016, het sy ’n knop gevoel wat net uit die bloute baie groot geraak het. Ná ’n mammogram en fynnaaldbiopsie is borskanker gediagnoseer. Sy is onmiddellik na dr. Justus Apffelstaedt verwys, positief getoets vir die geen en by Mediclinic Louis Leipoldt is ’n volle mastektomie en borsrekonstruksie gedoen.

    “Die Here het my gedra deur ’n twaalf uur lange operasie en verder die volgende dag ’n drie uur lange noodoperasie, bloedoortapping, agt chemo’s en bestraling. Die Here stuur baie engele oor ’n mens se pad. Ek het baie wonderwerke en krag van gebed beleef.

    “Ek moes van die rooi chemo kry wat hulle mos die red devil noem. Maar ek het net my ingesteldheid positief probeer hou. Met ’n helder serp op my kop en pienk lippe het ek my daaglikse takies aangepak: huishouding, drie jong kinders en werk.

    “Dit was Donderdae chemo en Vrydae werk. Naweke het ek simptome gehad en net góéd gerus. Maandae was dit weer opstaan. Dan kon ek nie wag om weer te gaan werk nie, want ek het gevoel ’n mens kan maklik jouself bejammer en só dalk in ’n donker gat beland. Dit was vir my baie belangrik om gesond te leef. Ek het gemorskos en suiker heeltemal uitgesny, dae wat ek goed gevoel het geoefen en baie water gedrink, wat my chemo-simptome baie minder gemaak het.”

    Ook deur die bestraling het sy positief gebly en gekonsentreer op wat goed was. “Ek wou nie hê mense moes aan my dink as ‘die vrou met borskanker’ nie.” Wat baie gehelp het, was om ’n dagboek by te hou oor haar gevoelens en ervarings.

    Engele op my pad

    “Die engele wat oor my pad gestuur is, was amazing. Ek het van die begin af net gebid dat ek die regte dokters en die regte ondersteuning moet hê, en ek het my omring met positiewe mense. Ons is ’n hegte familie en ons vroue het ’n WhatsApp-groepie begin, aanvanklik vir my maar dit het verder gegaan en vandag is ons steeds die ‘Prayer Warriors’.

    “Ondersteuning was onder meer bemoediging van ’n vriendin wat deur iets soortgelyk gaan of wildvreemdelinge wat gesondheidsgoedjies deel, die dokters, personeel en pasiënte saam met my in die chemo-kamer.” Op die ou end was elke oproep, drukkie en praktiese hulp deel van die ondersteuning waarvoor Ilana vandag dankbaar is.

    Hoewel sy voel dit is vir die mans moeiliker as wat meeste mense dink – hulle is bang hulle kan hulle vrouens verloor – was die humorsin wat hulle deel een van haar krukke. “Ek en my man het nogsteeds gelag oor baie goed.” En natuurlik was hy en die kinders haar grootste ondersteuners.

    Vandag is Ilana siektevry – ’n woord wat sy heelhartig aangeneem het toe haar onkoloog dit vir haar sê. Sy geniet en waardeer die lewe op ’n ander manier as wat sy voorheen het. “ ’n Mens kan sê op ’n manier het kanker my lewe gered. Ek het geestelik gegroei, my Bybel weer intens begin lees en geleer om stil te word.”

    Daar is minder kommer oor materiële dinge en ’n groter waardering vir belewenisse saam met haar man, kinders en die lewe self, sê sy. Dit was ook vir haar goed om nou weer deur haar dagboek te blaai en te weet dat sy déúr dit is.

    Ilana versprei graag die boodskap dat vroue maar die moeite moet doen om moontlike tekens van borskanker vroeg op te spoor en sê sy is ’n groot voorstander van gereelde mammogramme en selfondersoeke, veral as daar ’n familiegeskiedenis is.

    Al wat saakmaak, is om nog gesonde, gelukkige jare by jou lewe te voeg en jou kinders te sien grootword.

    * ’n Familiegeskiedenis van borskanker verhoog ’n vrou se risiko om die siekte te kry. Ander risikofaktore sluit volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) oorgewig en obesiteit en gereelde alkoholgebruik in, asook as ’n vrou geen kinders gehad het nie of eers ná 30 kinders gehad het. Dit is egter belangrik om te onthou dat daar ’n risiko by alle vroue bestaan en dat vroue elke maand selfondersoeke moet doen en ná 40 jaarliks vir ’n mammogram moet gaan.

    In Suid-Afrika is borskanker die mees algemene kanker onder vroue.

    Lees hier meer oor wat om te verwag as jy vir jou eerste mammogram gaan.

    Share this article