• 023 3470 923
  • Worcester
  • 028 5143 929
  • Swellendam
  • 023 3161 304
  • Ceres

    Waarom moet ek ’n sonar ná my mammogram kry?

    August 5, 2019

    Hierdie artikel het oorspronklik in Die Burger se Gesond!-bylae van 2 Augustus verskyn.

    Vroue wonder dikwels waarom ’n sonar ook gedoen word wanneer hulle vir ’n mammogram gaan.

    Dr. Riaan Joubert van Worcester Radiologie verduidelik dat ’n sonar net in sekere gevalle addisioneel tot ’n mammogram gedoen word.

    “ ’n Mammogram dien as basislyn-ondersoek om die borste in geheel te sien. Dit gee ’n goeie oorsig van die tipe borsweefsel en wys moontlike verkalking, velverdikking en sigbare kliere. Dit is die standaard ondersoek waarvoor vroue bo 40 jaarliks of tweejaarliks kom omdat dit aandui of daar tekens van borskanker is wat verder ondersoek moet word.”

    ’n Sonar word dan as hulpmiddel gebruik om op ’n spesifieke area van die bors te konsentreer. Dit help om die samestelling van ’n massa of klier verder te ondersoek: is dit sisties of solied, hoe lyk die bloedtoevoer, hoe groot is dit? Albei ondersoeke saam gee die inligting wat die radioloog vir ’n diagnose gebruik.

    Radiografiste het, behalwe hulle algemene kwalifikasie vir diagnostiese radiografie, ook ’n spesifieke kwalifikasie vir mammografie nodig. Dit is ’n maatreël om gehalte in mammogram-ondersoeke in Suid-Afrika te verseker. Die radiografis is dus opgelei om die regte protokol te volg as ’n moontlike probleem raakgesien word. Dit is belangrik om te onthou dat elke pasiënt anders is en die proses ná die mammogram ook vir elkeen kan verskil.

    By Worcester Radiologie vorm mammografie deel van die Well Women Imaging-afdeling wat ook toetse vir beenmineraaldigtheid (BMD) en vollengte skanderings vir liggaamstelling insluit.

    BMD word getoets vir vroeë tekens van osteoporose omdat simptome van dié siekte dikwels nie uitwendig sigbaar is tot ’n fraktuur opgedoen word nie. Statistieke van die Internasionale Osteoporosestigting toon ook dat een uit drie vroue en een uit vyf mans bo 50 deur osteoporose geraak sal word. Roetine BMD-toetse word dus aanbeveel vir vroue bo 65 en mans bo 70, tensy ander risikofaktore vroeër toetsing noodsaak.

    Skanderings vir liggaamsamestelling word op dieselfde DEXA-masjien as BMD-toetse gedoen. Dit is nie diagnosties nie maar ’n radiologiese manier om die persentasie vet en spiere in die liggaam akkuraat te meet, asook waar in die liggaam dit geleë is. Dit kan nuttig wees vir pasiënte met ’n hoë risiko vir leefstylsiektes wat die resultate van ’n leefstylverandering wil meet.

    Worcester Radiologie is by Mediclinic Worcester geleë, wat pas in Discovery Health se jaarlikse peiling as een van Suid-Afrika se 20 beste privaat hospitale aangewys is. Die praktyk het ook satellietpraktyke in Ceres en Swellendam. Albei doen mammogramme wat deur die radioloë in Worcester ontleed word.

    Pasiënte wat aan die ouderdomskriteria vir siftingstoetse voldoen, het nie ’n verwysing nodig vir ’n roetine mammogram of BMD-toets nie, maar uitslae sal aan die pasiënt se dokter gestuur word.

    Besoek www.wrad.co.za of skakel 023 347 0923 vir meer inligting.

    Share this article