• 023 3470 923
  • Worcester
  • 028 5143 929
  • Swellendam
  • 023 3161 304
  • Ceres

    Wêreldradiologiedag: Wat jy moet weet oor radiologie

    November 9, 2018

    *Hierdie artikel, waarin dr. Riaan Joubert van Worcester Radiologie aangehaal word, het oorspronklik in Die Burger se Gesond!-bylae van 9 November 2018 verskyn.

    Radiologie speel ’n belangrike rol in die vroeë opsporing van siektes. Tasneem van Rooyen het meer gaan uitvind wat radiologie behels en deel inligting oor spesialiste, verwysings en prosedures.

    Radiologie is ’n spesialisrigting in die mediese beroep wat basies daarop gemik is om die liggaam te verbeeld om ’n diagnose van ’n siekte te maak.

    Só sê dr. Riaan Joubert van Worcester Radiologie.

    “Diagnostiese radiologie kan verdeel word in ’n paar afdelings waarvan die vernaamste twee algemene radiologie en intervensionele radiologie is,” sê dr. Frikkie Buitendag van Morton & Partners Radioloë.

    Wie werk by ’n radiologie-praktyk en wat is hulle rol?

    Volgens dr. Buitendag is die twee grootste rolspelers by ’n radiologie-praktyk die diagnostiese radioloë en die radiografiste.

    “Die radiografis is verantwoordelik vir die skandering van die pasiënt. Hul eerste prioriteit is om die beste moontlike beeld te verkry sodat die radioloog ’n akkurate diagnose kan maak,” sê hy.

    Waarom gaan spreek jy gewoonlik ’n radioloog?

    Weens die kompleksiteit van die liggaam kan dit moeilik wees om siektes op te spoor. Tegnologie wat jou dus in staat kan stel om binne die liggaam te kan sien, is van kardinale belang. “Diagnostiese radiologie help die pasiënt se mediese span om strukture binne die liggaam te bestudeer,” sê dr. Buitendag.

    “Pasiënte word dikwels verwys vir ’n prosedure soos magnetiese resonansiebeelding (MRB), CT- of X-straal en die radioloog gee dan die nodige terugvoer aan die verwysende dokter in verslae nadat hy of sy die beelde van die prosedure nagegaan het.”

    Volgens dr. Joubert is die algemeenste rede vir ’n besoek aan ’n radioloog vir gewone X-strale om byvoorbeeld enkelfrakture of longontsteking uit te skakel.

    “Daar is egter ’n groot verskeidenheid gevorderde beeldingsondersoeke soos rekenaartomografie (CT-skandering), ultraklank-ondersoeke (sonar), MRB en mammogramme.

    Wie verwys jou na ’n radioloog?

    Volgens dr. Buitendag moet prosedures soos ’n MRB en ’n gerekenariseerde tomografie (RT), ook bekend as ’n CT-skandering, verwys word deur ’n spesialis, terwyl X-strale en ultraklank-beelding deur ’n algemene praktisyn versoek kan word.

    “Afsprake vir mammogramme en beendigtheidstoetse kan deur die pasiënt self gemaak word, hoewel ons altyd die pasiënt aanmoedig om eers hul dokter in kennis te stel voor hulle die toetse laat doen.”

    Wie betaal vir die prosedure?

    Betaling van ’n prosedure word bepaal deur die mediesedekkingsplan waaraan die pasiënt behoort.

    Indien die pasiënt nie aan ’n mediese fonds behoort nie of ’n verdere bybetaling vereis word, moet die pasiënt self die koste dra.

    Party prosedures (soos MRB en RT) vereis ook vooraf goedkeuring vanaf die mediese fonds.

    Wat is die nuutste in radiologie?

    “Die grootste ontwikkeling die afgelope paar jaar is waarskynlik gemaak op die gebied van MRB en CT-skanderings om beelding vinniger en diagnosties meer akkuraat te maak,” sê dr. Joubert. “Die ander rigting waarin groot vordering gemaak is, is die ontwikkeling van filmlose radiologie-praktyke.

    “Die beelde en verslae is digitaal, wat die beskikbaarheid van filmlose beelde vir verwysende dokters en pasiënte vergemaklik,” sê hy.

    Die verskillende prosedures

    Daar is verskillende prosedures wat ’n mens kan ondergaan by die radioloog. Dr. Buitendag verduidelik die verskillende prosedures:

    * Gerekenariseerde tomografie

    ’n RT- of CT-skandering laat dokters toe om binne-in jou liggaam te kyk. Dit gebruik ’n kombinasie van X-strale en ’n rekenaar om prente van jou organe, bene en ander weefsels te skep. Dit toon meer volledige besonderhede as ’n normale X-straal en kan op enige deel van jou liggam gebruik word.

    * Magnetiese resonansiebeelding (MRB)

    MRB’s gebruik ’n groot magneet en radiogolwe om na organe en strukture in jou liggaam te kyk. Gesondheidsorgwerkers gebruik MRB-skanderings om ’n verskeidenheid toestande te diagnoseer, van geskeurde ligament tot gewasse. MRB’s is baie nuttig vir die ondersoek van die sagteweefsel, strukture, soliede organe, rugmurg en die brein.

    * X-straal

    ’n X-straal skep prentjies van die binnekant van jou liggaam. Die beelde wys die dele van jou liggaam in verskillende skakerings van swart en wit.

    Die bekendste gebruik van X-strale kyk na gebreekte bene, maar X-strale word ook op ander maniere gebruik, byvoorbeeld borskas-X-strale kan longontsteking uitwys. Mammogramme gebruik X-strale om te soek vir borskanker.

    * Sonar

    ’n Sonar gebruik hoëfrekwensie klankgolwe om na organe en strukture in die liggaam te kyk. Gesondheidsorgwerkers gebruik dit om die hart, bloedvate, niere, lewer en ander organe te bestudeer.

    Tydens swangerskap gebruik dokters dit dikwels om die fetus te sien. In teenstelling met X-strale, stel ultraklank jou nie bloot aan bestraling nie.

    * Intervensionele prosedures

    Intervensionele radiologie behels die gebruik van X-strale, RT’s, MRB’s of ultraklank om die prosedure te begelei met behulp van beelde. Dit verskaf intervensionele radioloë met inligting om kateters en ander klein instrumente in die pasiënt te plaas, partykeer slegs met lokale verdowing, om verskeie gesondheidskwale soos geblokkeerde are of gewasse te behandel of naald-biopsies te behartig.

    Share this article