• 023 3470 923
  • Worcester
  • 028 5143 929
  • Swellendam
  • 023 3161 304
  • Ceres

    Worcester Radiologie kies ‘Biggest Loser’

    March 14, 2019

    Die een wat die beste presteer in ’n kombinasie van gewigsverlieskriteria, sal ’n prys van R5 000 losslaan. Dít was die gesondheidsuitdaging wat ’n dokter van Worcester Radiologie vir sy eie personeel gestel het. Sy inspirasie het gekom van nuwe sagteware, wat hulle vir ’n proefperiode gebruik het, wat iemand se presiese hoeveelheid middellyf-vet radiologies kan meet.

    Die gewone skaal is nooit gebruik nie en gewone “gewig” was nie die maatstaf nie.

    Vetverlies spesifiek om die middellyf (VAT of Visceral Adipose Tissue), wat met Worcester Radiologie se DEXA-masjien gemeet is, was een van die belangrike voorwaardes. Dié tipe vet word verbind aan ’n verhoogde risiko vir onder meer kardiovaskulêre siektes en tipe 2 diabetes.

    Dr. Francois van Zyl, ’n plaaslike internis, het in ’n praatjie oor diabesiteit verlede jaar verduidelik dat vet wat om die middellyf rondom organe gestoor word, as ’t ware as ’n ekstra endokrine orgaan optree. Dit veroorsaak die afskeiding van hormone en ander stowwe wat ’n langtermyn-uitwerking op die normale funksionering van lewensorgane het.

    Vetverlies

    Dr. Johan Blomerus het dus besluit om die sagteware in die DEXA-masjien in te span om onder meer te meet hoeveel van hierdie gevaarlike soort vet sy span kan afskud.

    Totale vetverlies (middellyf plus die res van die lyf) is ook gemeet. So ook wie die minste spierweefsel verloor, aangesien pasiënte wat dieet die gevaar loop om spierweefsel te verloor. Spierverlies kan weer ’n negatiewe uitwerking op gesondheidsaspekte soos metabolisme en beendigtheid hê.

    Dit was dus ’n mikpunt om so min moontlik spierweefsel te verloor, of selfs om spiere te probeer versterk; nié om so vinnig en so veel moontlik “gewig” te probeer verloor nie.

    Die wenner

    Uit die elf deelnemers (dr. Blomerus ingesluit), het Arthea Abrahams die beste algehele prestasie oor al die kriteria behaal.

    Haar pad na beter gesondheid het egter al ses maande vóór die kompetisie begin toe sy bloot besluit het om gesonder kos in haar inkopiemandjie te begin sit. Geen snaakse dieet of strawwe oefenprogram nie, maar ’n besluit wat haar stadig maar seker 17 kg laat afskud het.

    Sy het wel later, weens ander gesondheidsredes, die raad van ’n dieetkundige begin volg, wat vir seker gehelp het om die ses maande lange kompetisie vir haar te beklink.

    “Moet my nie nou al geluk wens nie,” sê sy egter. “Ek moet dit nou so hou. Praat maar eers oor ’n jaar weer met my.”

    Hillary Baadjies het die kategorie vir middellyf-vetverlies gewen en Claudine Willemse die kategorie vir totale vetverlies.

    * Vir meer inligting oor ’n DEXA-skandering, bel Worcester Radiologie by 023 347 0923. Omdat mediese fondse dit nie dek nie, is ’n spesiale tarief daarvoor vasgestel. Gesels met jou dokter vir kundige advies oor ’n gesonde leefstyl en leefstylveranderinge.

    Share this article