Is dit moontlik om net een kilogram ligter maar twee kleregroottes kleiner as voorheen te wees? Of dieselfde gewig maar jou liggaamsvet het gedaal van 42% na 18%? Die antwoord is ja en daar is tegnologie wat wys presies hoe jou lyf van binne kan verander, selfs al maak die skaal jou moedeloos.
Heelliggaamskandering vir liggaamsamestelling gebruik gevorderde laedosis X-straaltegnologie wat tradisioneel vir beendigtheidstoetse gebruik is. Deesdae word dit egter as een van die akkuraatste maniere beskou om die vetpersentasie in iemand se liggaam te bepaal, omdat dit die been-spier-vetverhoudings presies meet. Dit word ook beskou as ’n meer akkurate manier as BMI om te kyk of iemand ’n “gesonde” gewig handhaaf.
BMI, of liggaamsmassa-indeks, is ’n formule wat jou lengte en gewig gebruik om jou as ondergewig, normaal, oorgewig of vetsugtig (obese) te klassifiseer. Spiere is egter swaarder as vet van dieselfde volume. Daarom is dit vir ’n gespierde en ’n oorgewig mens moontlik om presies dieselfde BMI te hê (of om van oorgewig na gespierd te transformeer en steeds dieselfde te weeg). Van die wêreld se toprugbyspelers en liggaamsbouers sal byvoorbeeld as vetsugtig geklassifiseer word sonder addisionele inligting oor hulle liggaamsamestelling.
Beteken dit jy kan ontspan as jy ’n hoë BMI het? Definitief nie! BMI bly ’n gratis, blitsvinnige gids tot gesonde gewig wat deur wetenskaplike navorsing aan die risiko vir diabetes en hartsiektes verbind is. Vir ’n onaktiewe mens met ’n hoë BMI sal ’n skandering presies wys wat jy verwag: baie vet.
Die verskil is in die detail
Die skandering neem dit egter heelwat verder. Met verskillende kleurkodes skep die apparaat ’n visuele beeld van hoe die been, spiere en vet in jou liggaam versprei is. Dit verskaf ook die volgende numeriese data:
• Totale gewig
• BMI (saam met ’n visuele beeld van waar op die BMI-skaal jy is)
• Beendigtheid
• Totale % vetweefsel
• Totale % maer weefsel (spiere en organe)
• Rustende metaboliese tempo (RMR)
• Relatiewe hoeveelheid spierweefsel in die arms en bene (RSMI)
• Vetpersentasie om die middellyf asook om die heupe vir die Android/Gynoid-verhouding*
• Vetpersentasie om elke arm en been afsonderlik, asook die spiermassaverskil tussen links en regs
• Die verandering in vetpersentasie (totaal en afsonderlike streke) met elke opvolgskandering
*Die Android/Gynoid-verhouding is ’n aanduiding of iemand meer vet om die middellyf het (die groot gevaarsone in gesondheidsterme) of meer om die heupe.
Waar skanderings soms groot verrassings oplewer, is in die normale BMI-kategorie waar mense min spierweefsel en dus onverwags baie liggaamsvet het. So ook in die oorgewig-kategorie. Dit kan daarop neerkom dat iemand se vetpersentasie vergelykbaar is met ’n hoër BMI-kategorie as wat hulle dink.
Indien jy ’n leefstylverandering maak, sal skanderings met gereelde intervalle wys hoe vet oor tyd verdwyn, of jou dieet ook spierweefsel laat verdwyn, hoe jy met oefening spiere bou, en of jy albei kante ewe goed oefen.
Vir iemand wat oefen en dreig om moed te verloor oor die skaal nie juis beweeg nie, kan dit dus wys hoe hul liggaam voor hulle oë wél gesonder raak. En vir atlete of fiksheidsbewustes kan dit ’n manier wees om die effektiwiteit van hulle oefenregime te evalueer en aan te pas.
“Heelliggaamskandering is nie hier om gevestigde metodes te vervang nie,” sê dr. Johan Blomerus van Worcester Radiologie. “Maar dit meet met absolute presisie en kan ’n kragtige instrument wees om jou te help om die maksimum resultaat uit jou dieet- en oefenplan te kry. Die bewyse van hoe jou liggaam verander en ongetwyfeld gesonder word, is swart op wit. As dit is wat jy nodig het om gefokus te bly, is dit ’n reuse-oorwinning.”
By Worcester Radiologie
Heelliggaamskandering is van die jongste tegnologie wat by Worcester Radiologie beskikbaar is. ’n Skandering duur sowat tien minute en daar is geen spesiale voorbereidings om daarvoor te tref nie.
Dr. Blomerus beveel aan dat mense wat glo dit kan vir hulle voordelig wees, met hulle algemene praktisyn gesels of Worcester Radiologie kontak vir meer inligting.
*Hierdie artikel kan nie as mediese advies vir enige individuele pasiënt beskou word nie. Gesels met jou dokter oor gesondheidsbesluite wat reg is vir jóú.