Artikel oorspronklik gepubliseer in: Worcester Standard, 31 Mei 2018
Volgens die Internasionale Stigting vir Osteoporose (IOF) toon huidige wêreldstatistieke dat een uit elke drie vroue en een uit elke vyf mans ouer as 50 frakture weens dié siekte sal opdoen. Daar is egter maniere om sekere risikofaktore selfs van ’n jong ouderdom af te beperk en beengesondheid aan te help, sê die stigting.
Wat is osteoporose?
Osteoporose is die aftakeling van beendigtheid totdat die been poreus is en maklik breek. Omdat beendigtheid stelselmatig en ongesiens afneem namate ’n mens ouer word, word osteoporose volgens die Suid-Afrikaanse Stigting vir Osteoporose (NOFSA) dikwels eers gediagnoseer wanneer ouer pasiënte ’n fraktuur opdoen en hul beweeglikheid of onafhanklikheid geaffekteer word.
Risikofaktore
Sekere risikofaktore kan nie verander word nie, soos geslag, ouderdom en die pasiënt se familiegeskiedenis. Ander kan egter van jongs af beperk word om osteoporosefrakture te probeer vermy, sê die IOF: swak dieet, ’n onaktiewe leefstyl, té lae liggaamsgewig en eetsteurnisse, rook en oormatige alkoholgebruik.
Voorkoming
’n Voedsame dieet en aktiewe leefstyl is van die grootste voorsorgmaatreëls wat ’n mens kan tref. Mareli Conradie, ’n plaaslike dieetkundige, sê genoegsame kalsium en vitamien D is noodsaaklik. Omdat beendigtheid ’n piek bereik in ’n mens se twintigs, moet die inname van dié voedingstowwe van kleins af deel van ’n gebalanseerde dieet wees, maar natuurlik ook daarna volgehou word. Vermy ook oormatige inname van alkohol en kafeïen.
Hermien Kruger, ’n biokinetikus, sê gereelde gewigdraende oefening en aktiwiteite wat spiere versterk, dra by tot die bou en handhawing van beendigtheid. Ander voordele van gereelde oefening is verbeterde spiertonus, postuur en balans, wat as sulks die risiko vir val en moontlike frakture verlaag. Dit is egter belangrik om ’n kundige te raadpleeg oor veiligheid vóór jy begin oefen, veral as jy reeds gevaar loop om frakture op te doen.
Toetsing
Dr. Johan Blomerus van Worcester Radiologie sê verskeie metodes kan gebruik word om beenmineraaldigtheid te toets by pasiënte wat deur hul dokter daarvoor verwys word. Die mees algemene metode is ’n DEXA-skandering wat met X-straaltegnologie werk en beendigtheid in die ruggraat en heupe meet. Die uitslae word gekombineer met ander faktore om die risiko vir frakture asook die gepaste behandeling te bepaal.
Behandeling en bestuur
Die IOF sê ’n diagnose hoef nie ’n vonnis te wees nie. “Die regte medikasie en leefstylveranderinge kan jou help om osteoporose te bestuur en steeds ’n aktiewe lewe te lei.”
Roetine siftingstoetse word aanbeveel vir vroue bo 65 en mans bo 70, tensy ander risikofaktore toetsing op ’n jonger ouderdom vereis. Raadpleeg jou dokter vir persoonlike advies.
Addisionele bronne: www.iofbonehealth.org en www.osteoporosis.org.