Alda Lingenfelder het in 2013 besluit om vir die eerste keer in jare vir ’n roetine mammogram te gaan. Toe sy die duidelike knop in haar bors op die skerm sien, het sy dadelik geweet dit is kanker.
Alda, ’n onderwyseres by Brewelskloof Hospitaalskool, vertel sy het in Desember daardie jaar vir haar tweede mammogram ooit ’n afspraak by Worcester Radiologie gemaak. “Dit was (in Oktober) Borskankermaand en ek het besluit om te gaan. Dit was agt jaar na die eerste mammogram wat ek op 40 gehad het.”
Alda het geen rede gehad om te dink iets is fout nie en het ook nie enige slegte nuus verwag nie. “Maar ek het duidelik gesien daar is ’n knoppie en ek het dadelik geweet dit is kanker.”
Die daaropvolgende toetse het getoon dat die kanker reeds na die buise in die bors versprei het en ’n totale mastektomie is aanbeveel. “Net voor die nuus gekom het, het ek ’n artikel oor Carike Keuzenkamp se kankerpad gelees waarin sy gesê het die enigste ding waaroor sy spyt was, was dat sy nie ’n dubbele mastektomie gehad het nie. Ek het toe self vir ’n dubbele mastektomie gevra. Dit was ’n groot besluit, maar nie ’n moeilike een om te neem nie.”
Die mastektomie en rekonstruksie is in dieselfde operasie gedoen en Alda het nie chemoterapie of bestraling nodig gehad nie; net medikasie en jaarlikse opvolgbesoeke.
“Ek was geseënd om dit vroeg op te spoor. Dit wys net die waarde van ’n roetine mammogram.”
Sy glo sy is nou gesond en vertel dat die kankerdiagnose ’n onverwagse, baie positiewe uitwerking op haar lewe gehad het. “Agterna het ek baie meer begin lees oor gesondheid in die algemeen. Ek het my leefwyse drasties verander. Ek het spanning probeer verminder, oefening begin doen en die vrolike kant van die lewe begin geniet. Ek waardeer die lewe baie meer en ek het selfs nuwe vriendinne ontmoet wat vir my kom sê het hulle het ook al die pad gestap. En die groot vrees vir kanker is nie meer daar nie, want ek weet ’n mens kán dit oorwin.”
‘Iets het my bly pla’
Beverley Gouws het weer by Worcester Radiologie beland nadat ’n vroeëre ondersoek in die Kaap negatief was vir kanker. Dit was in 2008, nadat haar man uit Bellville oorgeplaas is Villiersdorp toe. “Die knop wat ek in my bors gevoel het, het toe al heelwat groter en baie gevoelig geword.”
Dié keer was die toetse positief en Beverley (noem my sommer Bev, sê sy) moes ses sessies chemoterapie en bestraling vir drie maande ontvang nadat die kwaadaardige knop en die limfkliere onder haar arm verwyder is.
Sy is tien jaar later steeds in remissie, maar het intussen probleme met haar knieë en heupe opgedoen, wat sy glo ’n newe-effek van die kankerbehandeling was.
Albei vroue stem saam dat hulle positiewe ingesteldheid ’n groot deel van hulle pad was. “Vir my was die diagnose nie ’n doodstyding nie. Ek het twee seuns en ’n man en vir hulle moes ek eenvoudig lewe en aangaan,” sê Beverley. Sy onthou selfs hoe sy medepasiënte moed ingepraat het terwyl hulle chemoterapie ontvang het. “Maar jy móét ’n doel hê en jy móét glo jy gaan herstel.”
Nie een van hulle ontken egter dat die diagnose ’n skok was nie. Alda onthou haar vrees vir die onbekende; Beverley sê sy was die hele naweek in ’n dwaal en was selfs in ’n ligte ongeluk betrokke. Maar hulle gesinne was hulle groot ondersteuning. Albei vroue onthou hoe hulle kinders (in daardie stadium tieners en studente) hulle besonder goed bygestaan het.
En albei getuig van hulle hegte verhouding met die Here, waarsonder nie een van hulle glo hulle sou oorleef nie. “Ek het geweet ek sal nie pad alleen kan stap nie,” sê Alda. “As ek nie die Here gehad het nie, sou ek nie oorleef het nie.”
Beverley het ’n soortgelyke getuienis en sê sy het vasgehou aan Psalm 121. “Die Here het my deurgedra en sy hand was die hele tyd oor ons.”
• Dokters beveel jaarlikse roetine mammogramme aan vir alle vroue bo 40. Raadpleeg jou dokter vir persoonlike advies.
• Vir meer inligting oor kanker, asook ondersteuningsdienste, besoek die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se webwerf, of bel die organisasie se Boland-tak by 023 342 7058.